ATKV / RSG Spel-intervarsity

Trifonius het in 2014 die eerste ATKV/RSG Spel-intervarsity (in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as deel van die Afrikaanse Spelfees) ontwikkel.

Die reeks bestaan uit 10 programme van 24 minute elk.

Ses universiteite het elk 'n span van twee deelnemers ingeskryf, en die universiteite is in twee groepe verdeel. Die noordelike universiteite (Universiteit van Pretoria, Universiteit van Johannesburg en Noordwes-Universiteit) en die suidelike universiteite (Universiteit van Wes-Kaapland, Universiteit van Stellenbosch en Universiteit van die Vrystaat) het in die eerste ses programme in 'n rondomtaliereeks teen mekaar meegeding om die beste vier universiteite te identifiseer. Daarna is sake uitgespook in twee semifinales, 'n bronsfinale en 'n finale om die eerste, tweede, derde en vierde plekke aan te wys. Die wenspan het prysgeld ter waarde van R10 000 ontvang, en al die ander deelnemers geskenkpakke.

Elke program bestaan uit drie speletjies.

  1. In die eerste speletjie, Beurtspel, spel elke universiteit presies dieselfde woorde. Terwyl die een span spel, het die ander span oorfone aan. Die deelnemers in elke span spel om die beurt 'n woord, en hulle moet probeer om soveel as moontlik woorde in een minuut korrek te spel. Dié woorde is geneem uit die Graad 9-woordelys van die ATKV en WOW se skolespelkompetisie.
  2. In die tweede speletjie, Liegbek, spel die universiteite vir mekaar woorde, hetsy reg of verkeerd. Die opponente moet dan sê of 'n woord reg of verkeerd gespel is, en hulle kry die kans om 'n potensiële fout te verbeter.
  3. In die laaste speletjie, Beterweter, word spelvermoë en algemene kennis gekombineer. Die deelnemer wat eerste sy of haar gonser druk, kan 1-, 2- of 3-puntvrae beantwoord (en dus 1, 2 of drie punte kry of verloor). Die vrae vir dié speletjie kom uit die vraagbank van Beter Afrikaans (www.beterafrikaans.co.za).

Reëls vir die speletjies is hier beskikbaar.

Die Spel-intervarsity word geborg deur die ATKV, RSG, die Dagbreek Trust (via die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns), CTexT en Trifonius.

Die programme word vanaf 7 September 2014 tot 9 November 2014 Sondaeoggende net na 11:00 op RSG uitgesaai. RSG saai uit tussen 100 tot 104 FM, of luister aanlyn by www.rsg.co.za. Potsendings van die program is ook beskikbaar op die webwerf.

ATKV                   RSG

DagbreekTrust        SAAkademieNuut

Image.KID.Logos.1.0.0.MHM.2011-11-30